🏆 IMPORTANT: You're viewing South Africa's ONLY wildlife college with CATHSSETA + QCTO + NEMBA accreditation. Verify Our Status →

Wanneer Vlamme die veld oorneem!!

Vandag het soos ’n gewone dag begin, maar teen die middag het dit vinnig verander in iets wat ek lank sal onthou. Oom Craig het onverwags by die lodge opgedaag en gesê ons moet dringend gaan help met ’n veldbrand, sowat 20 km van Bandelierkop af. Sonder om lank te dink het ons die bakkie gegryp en reggemaak vir wat voorlê.

Toe ons by die plaas aankom, het die werklikheid ons getref: oral was daar digte rook en groot vlamme wat hoog teen die lug opgesteek het. Die wind het die vuur aangeblaas en dit het gevoel asof dit net al hoe vinniger versprei. Ek is aangewys om die bakkie op te pas en te skuif sodra die vuur te naby kom. Van daar af kon ek alles sien afspeel – die mense wat hard werk met takke, water en vuurslaners, en die vlamme wat soos ’n lewende ding teen hulle baklei.

Bakkies het aanhoudend opgedaag, een na die ander. Ek het seker 18 voertuie getel, almal vol mense wat kom help het. Daar was geen tyd vir vrae nie – elkeen het net vinnig by my stilgehou en gevra waar hulle die beste kan inspring. Dit was indrukwekkend om te sien hoe boere en bure alles los om saam te werk teen die vuur.

Die geveg het =-3 ure aangehou. Almal het gesweet en gesukkel teen die vlamme, maar steeds het die vuur sy pad gemaak. Ten spyte van al die harde werk, kon nie alles gered word nie. Ongeveer 1000 hektaar grond het afgebrand, en selfs die lodge op die plaas is deur die vlamme verwoes. Dit was hartseer om te sien hoe ’n hele stuk plaas binne ’n paar uur in swart as verander.

Gelukkig was daar ook ’n positiewe kant: niemand is beseer nie, en uiteindelik is die vuur gestop en geblus. Toe die laaste vonke doodgeslaan is, het daar ’n stilte neergesak – die soort stilte wat mens net hoor ná ’n groot stryd.

Vandag het my laat besef hoe vinnig dinge kan verander, en hoe belangrik dit is as mense saamstaan. Die skade is groot, maar die lewe en veiligheid van almal bly altyd die belangrikste.