Ons nuwe bokkraal-Projek
Vandag het ons amptelik begin met ’n groot projek saam met Arno, Peace en Viaghn – die bou van ’n splinternuwe kraal vir die boerbokke. Van vroegdag af was daar geesdrif in die lug. Ons het bome uitgekap en die paadjies skoon gemaak waar die nuwe heining moet kom. Dit was harde werk, maar elke kap van die byl en elke bondel takkies wat uit die pad geskuif is, het dit al klaar begin laat lyk of die plek nuwe lewe kry.
Later die middag het ek en Viaghn saam met oom Craig Louis Trichardt toe gery. Daar het ons by die saagmeule gestop om houtpale te koop vir die kraal. Die hele plek was vol die reuk van vars gesaagde hout, en oral het groot masjiene gedreun. Wat ons die meeste beïndruk het, was ’n vreemde soort hyskraan – amper soos ’n excavator – met ’n reuse-klou wat die pale optel. Wat dit nog cooler gemaak het, was dat die masjien net op drie wiele beweeg het. Ons het vir lank net daar gestaan en in verwondering gekyk hoe dit die swaar hout so maklik rondskuif.
Teen die einde van die dag het ons die pale gekoop en terug huis toe gery met groot planne in ons koppe. Die kraal begin al vorm aanneem, en môre wag daar nog inkopies in die dorp om alles verder gereed te kry. Dis die begin van iets besonders vir ons en vir die bokke.