🏆 IMPORTANT: You're viewing South Africa's ONLY wildlife college with CATHSSETA + QCTO + NEMBA accreditation. Verify Our Status →

Nuwe Lewe: Baba Makoue maak hul verskyning by LWEC !!

Gister was ’n dag vol afwagting. Ek het drie keer in die nag opgestaan om te gaan kyk by my hoenderhok, want ek het geweet die tyd het aangebreek dat my twee makou-babas uitbroei. Reeds die vorige dag het ek die klein gaatjies in die doppe gesien – daardie teken dat hulle binnekort sou uitkom.

Teen sewe-uur die oggend, op 4 September, het die eerste makou sy verskyning gemaak. Ek was verstom oor hoe groot hy reeds was, al het hy nog daardie sterk eier-reukie gehad. Net twee en ’n half uur later, so teen half nege, het die tweede baba gevolg. Om daardie oomblik te sien – twee nuwe lewe wat hul eerste dag begin – was werklik besonders.

Ek het vir hulle ’n hokkie gebou om hulle veilig en warm te hou. Groot dank aan Oom Craig en Tannie Z wat vir my ’n rooi hittelig en die krat gegee het waarin die kleintjies nou tuis is. Hul nuwe plekkie lyk regtig oulik, en ek voel tevrede dat hulle die beste sorg kry.

Ek is opreg dankbaar dat ek by LWEC die geleentheid kry om met die hoenders en eende te boer. Dit bring soveel vreugde en vrede. Die eendjies wat vroeër gebore is, is intussen heeltemal opgepof en pragtig, en nou maak die makou-babas dit net nog meer spesiaal. Almal hier by LWEC is mal oor die nuwe aankomelinge.