’n Onvergeetlike Naweek by Albasini Dam saam Jaysen en Safari.
Soms gebeur die lekkerste avonture sommer op die ingewing van die oomblik. Vrydagaand het ek en Jaysen laat besluit: “Kom ons ry die naweek Albasini Dam toe!” Die opwinding was onmiddellik daar. Ons het ooreengekom – ná die rugby pak ons en val in die pad.
Die volgende oggend het ons skaars wakker, want die gedagte aan die dam het ons albei wakker en lewendig gemaak. Maar natuurlik, eers moes ons die Bokke ondersteun – en wat ’n wedstryd was dit! Met die oorwinning nog vars in ons harte het ons tasse, vistokke en natuurlik Safari, ons oulike hond, ingelaai en koers gekry.
’n Vinnige draai by die sentrum om vleis, hout, drankies en natuurlik snacks te koop, en daar gaan ons! ’n Kort 20 minute se ry later het ons die afdraaipad van Albasini Dam bereik. Josef, die vriendelike wag, het ons na ons huisie – eenheid 7 – verwys. Wat ’n mooi, netjiese plekkie! Ons was sommer dadelik gelukkig.
Die eerste dag – son, worsbroodjies en visarende
Met die bakkie afgelaai en die stokke in die water, was ons gereed om karp en bass te vang. Maar die son het ons vinnig geleer wie’s baas – dit was blerrie warm! Ons het die visstokke vir eers gelos en vir middagete heerlike worsbroodjies gemaak. Later het ons weer probeer, en Jaysen het sy eerste bass gevang. Intussen het ek birding gedoen – die visarende het gereeld oor die dam gekom, en die bloukuifloeries het hul mooi verskyning gemaak.
Ons het dag een afgesluit met ’n steak en roosterbroodjies – ’n perfekte einde aan ’n warm, avontuurlustige dag.
Sondag – vis, voëls en ’n nat hond op my bed.
Sondagoggend was ons vroeg uit die vere. Hierdie keer was die vislus groot – en dit het n groot verassing vir ons gegee! Bass na bass is gevang. In totaal het ons op een dag 20 uitgehaal. Safari, ons hond, het intussen sy eie pret gehad – soos ’n seekoei het hy in die dam rondgeswem, stokke uitgehaal en rondgespring. Totdat hy natuurlik besluit het om met sy sopnat, modderige lyf op my bed te spring! Ek moes net lag – dis mos Safari.
Die dag het aangehou vol wonderlike oomblikke. Ek het gaan stap en, tot my groot verbasing, ’n lifer gekry – die Kuifkoptarentaal. Wat ’n lekker verrassing!
Maandag – nog hoogtepunte
Al moes ons stadig begin dink aan huis toe gaan, Was die naweek nog nie heeltemal verby nie . ’n Oggendstappie het my twee roofvoëls laat sien: die Kleinsperwer en die Afrikaanse Sperwer – nog spesies om by my lys te voeg.
Vir ete was daar sosaties en knoffelbrood, heerlik oor die kole gebraai. Natuurlik kon ons dit nie daar los nie – nog ’n paar keer het die visstokke hul draai in die water gemaak. Jaysen het teen die einde van die naweek sowat 25 bass gevang, ek drie. Maar vir my was die groot prys my 55 voëlspesies wat ek kon afmerk.
So het ons naweek by Albasini Dam geëindig – vol gelag, son, vis, voëls en die grapgat Safari wat alles net nóg lawwer gemaak het. Dit was ’n naweek wat wys: jy hoef nie ver te reis vir groot avonture nie, jy hoef net die pad te vat en die oomblik te leef.
Wat ’n wonderlike naweek – en beslis nie die laaste keer by Albasini Dam nie!