🏆 IMPORTANT: You're viewing South Africa's ONLY wildlife college with CATHSSETA + QCTO + NEMBA accreditation. Verify Our Status →

’n Dag vol Leeus, Lifers en Lag — Avontuur saam Jaysen in die Kruger Park

Saterdagoggend in Phalaborwa het begin met n yskaskoue kamer te danke aan die lugversorger, en die eerste sonstrale wat oor die bosveld breek. Reeds teen 6-uur was ons op en reg vir avontuur , toe ons by Forever Holiday Resort uitry en koers kies na die Phalaborwa-hek. Net voor 7 is ons deur die hek — die reuk van die bos, die klank van voëls, en die opwinding van wat die dag kon inhou, hang dik in die lug.

Nie tien minute in die park nie, en daar sit hy — ’n Martial Eagle, trots en indrukwekkend op sy uitkykpunt. Ek kon dit eenvoudig nie glo nie! Dit was ons eerste spesie van die dag, en sommer dadelik ’n hoogtepunt. Van daar af het die wildlewe ons net oorrompel — buffels, zebras, rooibokke, olifante, nyalas en klein steenbokkies het oral verskyn soos tonele uit ’n natuurprogram.

Teen laatoggend het ons koers gekies na Letaba Rest Camp, waar ons besluit het om ontbyt te geniet. Die restaurant kyk uit oor die Letabarivier — ’n toneel so mooi dat jy dit eintlik nie met woorde kan beskryf nie. Terwyl ons eet, spot ons vyf verskillende ooievaarspesies, insluitend omtrent ses Saddle-billed Storks wat elegant in die water rondstap. Dit was ’n paradys vir enige voëlkyker!

Met vol mae en groot glimlagte ry ons verder in die rigting van Satara. Langs die pad stop ons kort-kort by riviere waar waterbokke, olifante en hordes rooibokke kom drink. En toe gebeur dit — ek sien my “lifer” van die dag: die White-crowned Lapwing! Ek was in my noppies.
Net daarna merk ons ’n groep motors wat voor ons stilhou. Jaysen sê: “Hierdie mense sien iets cool.” Hy was reg. Toe ons stilhou, sê n man in n ander voertuig vir ons daar is leeus! En daar, oorkant die rivier, lê ’n leeuwyfie rustig teen die water. Die hitte van 40°C het selfs die koningin van die savanne laat lê en afkoel. Sy bet n paar keer haar tande Vir ons gewys Soos wat sy gaap— die perfekte kombinasie van krag en vrede.

Ons moes egter aanhou ry — Satara wag. En toe gebeur iets snaaks: Jaysen wys op ’n groot voël en vra: “Johann, is dit nie ’n Gompou nie?” Ek kyk mooi en lag: “Ja, jy’s 100% reg! Well spotted!” So iets laat mens sommer trots glimlag.

Voor ons Satara bereik, sien ons twee reuse kudu-bulle, waarskynlik 57 duim of groter, wat onder ’n boom lê — hoe sê hulle die spook van die bosveld. By die Satara-winkel was dit bedrywig! Ek koop vir my ’n Kruger Wildtuin-t-hemp en ’n sleutelhouer — klein herinneringe aan ’n groot dag.

Toe ons terugry na Phalaborwa toe, het die pad nog vol verrassings gebly. Tussen Satara en Olifants sien ons twee skaars roofvoëls — ’n White-headed Vulture en ’n Lappet-faced Vulture — albei lifers vir my! My dag was gemaak. Net toe ek dink dit kan nie beter word nie, sien ek ’n Tawny Eagle naby Letaba , nog ’n nuwe spesie!

Met die son wat stadig sak, ry ons die laaste stuk na die hek. Net toe ons dink die dag is verby, lê daar nog ’n leeuwyfie — skaars drie meter van die pad af, rustig in die skaduwee. Dit was die perfekte laaste groot ontmoeting voor ons die park verlaat.

Toe Jaysen vra wat ons laaste diere van die dag was, sê hy syne was ’n bobejaan, en ek glimlag: “Myne was ’n pragtige steenbokkie.” Die perfekte kontras — van die stoutste tot die skaamste van die bos.

Terug by Forever Holiday Resort het ons by Tannie Z en Oom Craig aangesluit vir ’n heerlike braai saam met die Honorary Rangers. Die vuur het geknetter, en ek kon net dankbaar wees — vir die diere, die geselskap, en die ongelooflike dag in Afrika se grootste wildtuin.

Wat ’n onvergeetlike dag vol avontuur, vriendskap en wonderwerke van die natuur!

Ek Wil ook net Baie dankie sê aan Tannie Z en Oom Craig wat hierdie naweek Vir ons Moontlik gemaak het dit was vet pret gewees en dankie dat julle ons so bederf het dit was regtig n lekker naweek gewees!!