Maandagoggend was soos enige ander oggend hier by die Lodge. Die studente en ek was besig met ons werk, maar toe ons middagete geniet het, het die lewe se roetine n onverwagse wending geneem. My broer het ingestap en gevra: “is julle drie reg vir vuurveg?”
Kort daarna het ek,Jaysen en my broer ons water en die “blowers” op die bakkie gelaai en daar het ons gegaan. Teen 12:30 was ons al by die vuurlyn. n Klomp bakkies en manne het ook daar gestop om die vuur te help stop.
Ek, Jaysen en my broer het die “blowers” op ons rug gegooi en die afdraande pad gehardloop om die vuur te gaan baklei waar die manne alreeds besig was. Dis toe ons sien n man se bakkie het n bietjie skade gekry met die vuur. Terwyl ons baklei het, het n ander man n vuur agter ons en van die kant af begin, en ons het net gehardloop tot waar dit klaar gebrand het.
Ons drie het toe op n bakkie geklim en na n ander punt op die plaas gery om die vuur in n spruit te gaan baklei. Na baie lank se vuurveg was ons so dors. n Hele ent van ons af het ek n bakkie gesien wat ligte flits en toeter blaas. Ons het nader gestap en die eerste ding wat my broer die man en vrou vra was nie “wie is is julle nie,” maar wel:”Het julle asseblief water?”
Die 750ml bottel wat hulle gehad het, was die lekkerste water wat ek nog ooit geproe het. Die dankbaarheid vir daardie bottel water was onbeskryflik.
Ons het saam met die man en vrou teruggery na my broer se bakkie waar ons Johann met die bakkie gelos het. Toe ons daar kom, het ons glase en glase water gedrink wat in die bakkie was. Ons het toe in die bakkie geklim en gaan kyk waar die ander manne nog vuur veg. Toe ons daar kom, was die vuur so te se verby, en ons ook. Die tyd was ongeveer 18:30 die aand. Ons het terug by die Lodge gekom en dadelik aandete gaan eet, want ons almal was baie honger na die vuur.