🏆 IMPORTANT: You're viewing South Africa's ONLY wildlife college with CATHSSETA + QCTO + NEMBA accreditation. Verify Our Status →

’n Warm Dag vol Werk en Pret by die Nuwe Bokkraal

Vandag het ek en Viaghn sommer al vroeg-oggend die dag aangepak. Ons begin om die swaar pale vir die nuwe bokkraal van die trailer af te laai. Ons hande was swart van die teer, pikswart soos kole, en dit wou nie sommer afkom nie. Uiteindelik moes ons petrol gebruik om dit af te was – dit was ’n gesukkel, maar dit het gevoel asof dit deel is van die harde boerewerk wat so eie is aan die plaaslewe.

Toe dit klaar is, het ons die volgende taak aangepak: nog ’n trailer vol hout gelaai wat weggeneem moes word. Net toe ons klaar is, arriveer oom Craig by die nuwe kraal se terrein. Hy het gesê hy moet Louis Trichardt toe ry om die res van die benodighede te koop, en ek het saam met hom dorp toe gegaan.

Ons eerste stop was by die sementwinkel, waar ons 105 sakke sement van 25 kg elk gekoop het – ’n hele berg sement as jy my vra !. Daarna het ons koers gekry na die koöperasie om draad, binddraad, heinings en hekke aan te koop – alles wat nodig is om die bokkraal sterk en netjies te maak.

Teen die tyd wat ons teruggekom het by die lodge, was die ander manne al hard aan die werk. Die auger het vinnig gate gegrou vir die pale, en jy kon sien hoe die kraal stadig vorm begin kry. Ons het die bakkie en trailer afgelaai, en toe was dit tyd om ’n bietjie asem te skep. Die dag was verskriklik warm – 35 grade in die middel van Augustus – en ek kon die sonnetjie voel brand deur my hemp.

Jaysen het dit  beter gemaak . Hy het my sommer sopnat gespuit met die tuinslang, en ek kon net lag en probeer wegkom. Natuurlik het dit gelei tot ’n vinnige swemsessie wat my heerlik afgekoel het. Die water was vars en koel, en vir ’n oomblik het dit gevoel asof die harde werk van die dag niks was nie.

Dit was ’n dag vol sweet, harde werk, stof en son… maar ook een van lag, saamwerk en die lekker gevoel dat iets nuuts gebou word. Elke paal wat geplant word, bring ons nader aan ’n kraal wat lank sal staan – ’n simbool van spanwerk en trots.