🏆 IMPORTANT: You're viewing South Africa's ONLY wildlife college with CATHSSETA + QCTO + NEMBA accreditation. Verify Our Status →

’n Naweek saam met Ma en Pa – Bandelierkop & Hanglip

 

Saterdag het ek besluit om vir my ma en pa te wys hoe dit lyk op die plaas hier by Bandelierkop waar ek bly. Dit was vir my belangrik dat hulle die plek self kan sien – die  veld, die klippe, die bome, en hoe die son oor alles val. Ons het rustig deur die plaas gery, en dit was nie lank nie of ons sien ’n paar rooibokke wat stil in die veld staan en wei. ’n Ent verder het daar ook ’n klein groepie kudu’s verskyn, trots met hulle groot horings. My pa het dadelik gewys en gesê dis die soort oomblikke wat mens onthou, en my ma het net gelag en gesê sy hou van hoe rustig die plaas voel. Vir my was dit lekker om my wêreld vir hulle oop te maak – om te wys dis nie net ’n plek waar ek bly nie, maar ’n plek vol lewe.

Sondag het ons die pad gevat Hanglip Natuurreservaat toe. Ek wou hulle die woud en die berg wys waar ek al voorheen geloop het. Toe ons daar aankom, was dit koel in die skadu van die groot bome. Die berg se woud het soos iets uit ’n ander wêreld gevoel – die vars lug, die voëls se geluide en die stilte tussenin. En toe, die hoogtepunt: ons kry ’n paar pragtige Knysna loeries! Hulle helder groen vere was regtig iets besonders om saam met my ouers te deel. Ons het ook ander voëls gesien, elkeen met sy eie kleur en roep, en dit het die hele uitstappie soos ’n avontuur gemaak.

Teen die einde van die dag het ek besef hoe kosbaar dit was om hierdie naweek saam te deel saam my ouers – Saterdag tussen die wild op die plaas, en Sondag hoog teen die berg tussen die bome en die voëls. Dis die soort herinneringe wat mens warm hou lank nadat die dag verby is.